Ek sing al vanaf ek 9 jaar oud is (gits dis nou al baie jare gelede!). Dit was en sal altyd vir my ‘n voorreg wees om soos in die verlede die verhoog met my pa Willie Botha te deel.
Ek is in 1974 in Randfontein in Robinson hospitaal gebore. My pa terg en sê ek het my eerste openbare optrede in die voortuin met ‘n tuinslang uitgevoer en het so rukkie later die tuinslang vir ‘n mikrofoon geruil!
Die lewe is nie altyd maklik nie, maar ek dien die Here al van kleins af en het Hom ontsettend lief. En dit is net Hy wat my deur elke moeilike tyd gedra het.
In 1996 trou ek met my oulike man Wimpie en in 1998 is ons meisiekind Tahlita gebore en in 2001 word ons seun Wihan gebore. . . . en nou verstaan ek alle ma’s wat seuns het soveel beter!
Die bediening is nie vir my net ‘n werk nie maar ‘n roeping. En elke dag besef ek net meer en meer hoe bevoorreg ek is om dit voltyds te kan uitleef! Met 10 solo cd’s, ‘n vroueboek en 6 dvd’s, 5 Lofprysing en aanbidding cd's, asook 3 duet cd's saam Willie Botha op die mark, is dit heerlik om mense reg oor alle grense met musiek en woord te bedien.
Meer as 10 jaar gelede het ek onder leiding van die Heilige Gees ‘n organisasie gestig wat reeds ongeveer 500 minderbevoorregte tieners meisies reg oor Suid-Afrika versorg. Die organisasie, Annebel Foundation, gee nie net al die meisies se basiese higiëniese produkte nie, maar bied ook gratis afrondingsklasse maandeliks vir die dogters aan. Dit was ook vir my ‘n groot voorreg om die vroueprogram “Skop jou skoene uit” en “Girls met guts” op KRUISKYK , asook ‘n inspirasie program op radio aan te bied. Die ondervinding het my vrywillig gedwing om altyd dieper te delf en nuwe liede en praatjies te skryf. In 2018 begin ek ook die afrondingsskool "Little & Young Ladies"
Dis dan seker ook die rede hoekom ek die afgelope 21 jaar die groot voorreg het, om nie net by eredienste nie, maar ook by talle vrouefunksies soos konferensies, tee’s kampe my bediening uit te leef. Dankie vir elke kerk, skool, koperatiewe geleentheid wat mense my bied om my bietjie talent beskikbaar te stel. Dit is en sal altyd ‘n voorreg bly om mense te bemoedig.
“I believe God use Music because . . . . music breaks hard hearts en heals broken hearts.”